As per government instruction all websites operating .zaDNA top level domain name must have a landing page with a visible link to the "COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal" Please click here to access www.sacoronavirus.co.za.

Akademie

By Laerskool Lichtenburg word daar 'n baie hoë premie geplaas op die akademiese standaard van ons leerareas, sowel as leerders. Onderlinge skakeling tussen ons Graad 7-opvoeders en ons plaaslike Hoërskool (Hoërskool Lichtenburg) se Graad 8-opvoeders vind plaas, sodat verseker kan word dat ons leerders volwaardig toegerus is vir die hoërskool deel van sy/haar onderrigloopbaan.

Dit is 'n welbekende feit dat voormalige Laerskool Lichtenburg leerders kwartaalliks, van grade 8 tot 12, deel uitmaak van ons plaaslike Hoërskool se Top 10-akademiese presteerders. 'n Bewys van die standaard van akademie.

Alle onderrig by Laerskool Lichtenburg is gebaseer op 'n Christelike grondslag. Handboeke word deeglik bestudeer wat betref die inhoudelike, alvorens dit aangekoop en aangewend word in ons klasse.

Ons skool beskik oor puik gekwalifiseerde personeel wat kindervriendelik optree en die passie van onderwys daagliks uitleef. Dit is nog steeds vir ons personeel 'n voorreg om met u kind te mag werk. Ons het goed toegeruste klasse waar hulpmiddels ter ondersteuning van effektiewe onderrig daagliks aangewend word. Die hele grondslagfase en 'n gedeelte van die seniorfase is toegerus met INTERAKTIEWE WITBORDE. Hierdie ultra-moderne tegnologie verseker optimale stimulering van u kind en verseker effektiewe onderrig. Ons skool beskik verder oor die dienste van 'n Spraakterapeut, 'n Arbeidsterapeut, 'n Opvoedkundige Sielkundige en 'n Kinderterapeut. Hierdie dienste kan in skooltyd aangewend word tot voordeel van 'n leerder wat dit benodig.

Jaarliks word opvoedkundige toere onderneem met die Grondslag-, sowel as Seniorfaseleerders. 'n Goed toegeruste Mediasentrum is nog iets waarmee ons graag spog. Verskeie naslaanbronne is beskikbaar vir die voltooiing van verrykende werksopdragte en die bronne word jaarliks aangevul. In die Mediasentrum word leerders aangemoedig om te lees, deurdat bronne daagliks deur die leerders uitgeneem kan word.

Puik akademiese uitslae word kwartaalliks aangemoedig deur die aankondiging van die Top 10- Akademiese Presteerders van Graad 4 tot 7. Hierdie leerders word dan op 'n opvoedkundige uitstappie geneem as beloning vir hul harde werk.

sassy-breed
sassy-breed
sassy-breed
sassy-breed